top of page
Featured Posts
Check back soon
Once posts are published, you’ll see them here.
Recent Posts
Archive
Search By Tags
No tags yet.
Follow Us
  • Facebook Basic Square
  • Twitter Basic Square
  • Google+ Basic Square

7 Goeie Gewoontes


Hierdie riglyne gaan jou kind in die toekoms nog baie baat – begin sommer vandag!

Daar is net sekere dinge wat nooit gaan verander nie.

Vloerstuipe is onvermydelik, en die kind wat jou nooit gaan uitdaag nie moet nog gebore word.

Tog is daar ’n hele paar goeie gewoontes waaraan jy nou al kan begin werk. “Maak van al hierdie alledaagse takies pret,” is die raad van Gael Lindenfield, ’n Britse psigoterapeut en skrywer van die boek Confident Children.

En onthou, jou peutertjie is elke oomblik van die dag besig om jou fyn dop te hou.

Daar is nie ’n beter leerskool as jou eie gedrag nie! Peuters leer deur nabootsing; maak dus seker hy sien dat jý hande was, water drink en tande borsel ...

1. Borsel klein pêreltjies Leer jou kleinding van kleins af om twee keer per dag haar tandjies te borsel.

Deesdae is daar soveel oulike tandeborsels en geurige tandepasta vir kinders op die mark dat dié takie prettig kan wees.

Jy behoort jou kind te help en toesig te hou terwyl sy tande borsel tot sy sewe jaar oud is. Weer eens is jou voorbeeld die heel beste manier om jou dametjie te wys hoé.

2. Was vuil handjies ’n Kind wat van vroegs af geleer het om sy handjies te was, se aanraking met kieme is uiteindelik baie minder.

Sodra boeta begin kruip, kan jy dié goeie gewoonte begin kweek. Leer hom om hande te was voor ete, nadat hy met die kat gespeel het en selfs nadat hy buite in die sandput was.

Sit ’n trappie by die wasbak, maak die bak vol louerige water en wys hom elke keer hoe om sy handjies 20 sekondes lank te vryf.

Maak dit pret: Sit ’n spesiale sepie by die wasbak en los selfs vir hom sy eie handdoekie met karakters op daar naby. En pas dié goeie gewoonte in jou eie lewe toe!

Sê ook vir hom waarom jy jou hande was elke keer wanneer jy dit doen.

3. Drink water ’n Kind wat baie water drink, het beter konsentrasie en dit help die hele liggaam om beter te werk.

Jou peutertjie kan leer om van water te hou, veral as jy van vroeg af vir hom leer dat hy elke dag water moet drink.

Maak seker dat daar altyd water in ’n bekertjie byderhand is en vra gereeld deur die dag of hy nie dors is nie. Hy’s dalk nog te klein om sy dors te verwoord en hy kan prikkelbaar voel, maar nie weet hoekom nie.

Kry prettige bekertjies, strooitjies en waterbottels met spuite wat julle kan afwissel. Laat hom selfs toe om onder jou toesig water uit ’n “grootmens”­glas te drink as dit al is wat hom sover gaan kry.

Dis glad nie die einde van die wêreld as kleinman ’n bietjie nat word nie.

4. Fees met vrugte ’n Gesonde dieet sal voorkom dat jou peuter vet word en haar ook gesond hou. Maak seker dat jou baba gewoond raak aan vrugte en groen te sodra sy vaste kos begin eet.

Natuurlik gaan sy nie van alles hou nie, maar stel haar bekend aan verskillende vrugte en groente met verskillende teksture.

’n Gesonde peuter behoort elke dag vyf porsies groente en vrugte te eet. Maak van vrugte en groente eet pret.

Beproef ’n verskeidenheid vorms en maniere om dit in haar magie te kry – van rou, gerasper en in blokkies gesny tot in prentjievorm op die bord gerangskik.

Vertel ’n storie terwyl sy eet. Betrek haar gerus ook by die kosmaakslag. Maak ’n vaste reël in jul huis dat niemand lekkers kry voor hulle nie ten minste een vrug geëet het nie.

Maak seker daar is altyd vrugte byderhand – sit selfs droëvrugte in ’n bakkie in haar speelkamer neer waaraan sy kan knibbel as die honger begin knaag.

5. Versigtig vir die son Smeer elke oggend vir jou peutertjie ’n sonskerm aan. Velkankersyfers neem daagliks toe en navorsing het gewys dat sonblootstelling in die kinderjare een van die grootste sondaars is.

Verduidelik van kleintyd af vir jou peuter dat die son baie warm is en dat sy kan brand as sy nie sonskerm en ’n hoed dra of behoorlik aangetrek is nie.

Spuit ’n klein bietjie sonskerm in jou kind se hand en laat haar toe om self ook daarvan aan haar lyfie te smeer.

6. Kyk minder televisie ’n Peuter het nie televisie in sy lewe nodig nie – nie eens opvoedkundige programme nie. Leer hom van kleins af dat hy hoogstens ’n halfuur lank per dag TV mag kyk.

Vrye spel en oefening is nou baie nodiger vir sy ontwikkeling as stories op die kassie.

7. Vra asseblief! Ander kinders én volwassenes hou van ’n kind met goeie maniere.

Dit gaan dalk ’n hele ruk duur voor die jonge juffrou self die woord “asseblief” sal gebruik, maar as sy dit van dag een af gereeld uit jou mond hoor, sal dit eendag makliker van haar eie tong afrol.

Dieselfde geld vir dankie: Maak seker dat jý altyd asseblief en dankie sê – ook as jy met haar praat – en leer haar wanneer om dié woorde te gebruik.

As jy elke dag ’n honderd keer haar sinne daarmee voltooi, sal sy dit die een of ander tyd snap!


bottom of page